28 May 2008

Xenophobia se voet! Wat die media nie vertel nie.

As jy wil weet wat werklik gebeur, help die media nie altyd nie. Die media kondisioneer ons om sekere goed te WIL glo. Onthou: Hulle bied inligting op so 'n manier aan dat hulle meer geld uit jou kan maak .

Vir die waarheid, gesels met die mense op grondvlak. Die meeste koerant berigte bevat foute (soms ernstig) wat deur mense wat self by die insident betrokke was uitgewys kan word. Moenie sommer enige storie glo nie. (Ja, toets ook my stories voor jy dit glo!)

Ware storie:
Ons bejaarde huisbediende vertel dat in haar tuisdorp (in Noord-Wes naby Brits) is die handelaars aangeval en verjaag en al die winkels geplunder. Daar was geen xenophobia nie - die handelaars is almal Suid-Afrikaanse Indiërs!
In hul buurdorp het dit effe meer beskaafd gebeur: Die "vigilantes"/tsotsis het die handelaars 5 dae waarskuwing gegee - en teen laasweek Maandag het die hele lot gevlug.

Nou sit groot gemeenskappe sonder winkels en brood en alle kos moet in Brits gekoop gaan word. Vra hulle wie die opstokers was, is die mense weg en onbekend.

Dit is g'n xenophobia, dis eenvoudig arm en kriminele mense wat die rykes aanval!

Die media se spin op stories:
56 mense dood in twee weke - dis verskriklik.
35 000 uit hul huise en werke gejaag - dis nog erger.
Dan praat niemand eers van al die beserings en mense wat permanent vermink is nie.
Maar dit vergelyk glad nie met die 50 mense per dag wat in SA vermoor word nie, want dan is hierdie sensasie minder.

SA se moordsyfer het sedert 1994 vanaf 70 na 40 per 100 000 in 2006 verminder.
(In Swaziland het dit oor 'n ietwat langer tyd geval van 90 na 13. Brasilië, wat ook bekend is vir hul gewelddadige misdaad, se moordsyfer is 28 per 100 000.)
Nou weet ek nie wie ek moet glo nie: Die polisie se statistiek (wat hulle nou baie beter beheer as in die verlede) of die media wat dit duidelik maak dat dinge al hoe erger word.
My persoonlike ervaring is dat al hoe meer persoonlike vriende en familie vermoor en aangeval word - dit is onafhanklik van media verslae. Die polisie erken egter dat SA se gewelddadige rooftogte steeds besig is om toe te neem. Ek weet dus steeds nie wat regtig die waarheid is nie.

Nog 'n voorbeeld van media geskepte persepsies: Om te veralgemeen dat Nigeriërs die groot kriminele in SA is, is 'n baie populêre siening aangevuur deur media berigte. Maar in Pretoria se middestad is daar verskeie groot kerke wat deur Nigeriese sendelinge hier gestig is. Die grootste kerke in Afrika is in Nigerië.


Wat is die antwoord?

Ek kan baie maklik nog baie meer kritiseer, maar die situasie word nie deur afbrekende kritiek verbeter nie.
'n "Golden bullet" wat skielik alles gaan regkry bestaan nie. Maar jy kan by jouself begin.
Iemand vertel my dat misdaad reg kry wat die kerk nie kon reg kry nie: bure kom bymekaar uit en mense bid soos nooit te vore nie!

Meeste van die Bybelse voorskrifte vir die lewe is daarop gemik om 'n samelewing te skep waar voorspoed en geluk kan heers. Gebruik die Bybel om die maksimum uit die lewe te kan put.

- Kry jou gemoed skoon. Vergewe waar jy moet.
- Kyk waar jy iets positiefs kan doen vir iemand anders. Iewers gaan jy weer aan die ontvang kant wees.
- Leef 'n gesindheid van hoop uit sodat geleenthede benut kan word.
- Moenie misdaad en bedrog laat verby gaan sonder om dit minstens te rapporteer nie.

Geniet die lewe - al is dit nie regverdig nie - want God is genadig!


NS:
'n Interessante feit oor immigrante:
Buitelanders (feitelik oral in die wêreld) is gewoonlik die deel van die populasie met meer inisiatief en idees en opleiding en werksywer. Die plaaslike bevolking wat mooi stabiel is doen gewoonlik minder om hul eie lot te verbeter. Ons sit en wag vir die regering om iets te doen, wat gewoonlik ook nie na ons smaak is nie.

No comments: