Waarskuwing: Mense met 'n swak gestel en sonder kinders MOET hierdie NIE LEES NIE!
'n Kotselike aand tuis (Dit was nie kostelik nie, al het dit te doen met kos)
Gisteraand vertel ek nog vir 'n buurman ek moet huistoe want my kinders maak kos, en moeder is nie tuis nie. Hy is nogal be-indruk met my 8-jarige wat al kosmaak. (Ek ook!)
Eers het sy my kom vra vir die groot halwe pynappel wat ek afgeskil het.
'n Rukkie later kry ek 'n happie van haar brood met pynappel en 'n dik laag mayonaise tussen in. Later maak sy vir ons almal mikrogolf-roer-eier soos Ouma haar geleer het. Ek sien egter dat daar niks pynappel oorgebly het nie.
Intussen is Mamma tuis en ons jaag almal vroeg bed toe met die oog op more oggend se vroeƫ vertrek op vakansie.
So 'n paar ure later skrik ons wakker van die geluide van iemand wat by Minnaar verby is en nou meer soos Kotze klink. Jy weet: Daardie roggel geluid en onbeskryfbare klanke van 'n keel wat iets doen wat heeltemal agterste voor is, gevolg deur die spat wat klink soos 'n bak water wat op die vloer uitgegooi is. Ongelukkig is ek eerste op die ongelukstoneel: Daar sit sus so half op die bad se rand en elke paar sekondes spuit iets oor die vloer. Na 2 probeerslae kry ek darem die rigting omgedraai. Nee, nie die rigting in die keel nie, die teiken word net verander van “op-die-vloer”, na “in-die-bad”. Oorwinning - want elke stukkie tel!
Nou, ja, met moeder se ondersteuning kom die eerste veldslag tot 'n einde en begin die skade beperking. Skottels word uitgehaal. Kind word getroos, mond uitgespoel, klere uitgetrek, gebad (in die ander skoon bad!).
Foto van die vuil badkamer:
Ek kry natuurlik die vuil badkamer om skoon te maak. Het jy 'n idee hoe 'n halwe pynappel ruik nadat dit so 4 ure deurgebring het in 'n kind se maagsure met 'n klomp mayonnaise vir geselskap? Voor vanaand het ek nie geweet nie.
Ek kan nie by die venster uitkom nie, want die vloer is nie toeganklik nie. Dus word al die huis deure oopgemaak vir ventilasie. Vat die spaghetti-mop sonder om te weet hoe/of die ding so 'n gemors kan optel. Met my onder-water-hokkie ervaring kan ek darem 'n hele ruk opvee met die mop aan die gemors voor ek moet uitstorm om te gaan asem haal. Ek sien egter nie hoe die mop die situasie verbeter nie. Die mop help net om die gemors te versprei. Weens ander inhoud (wat ek nie kan beskryf terwyl ons nou vankos praat nie) wat nie wou wegspoel nie, kan die mop nie on die toilet gespoel word nie.
Uit desperaatheid kry ek die skoppie en besempie en skep op en gooi in die bad.
Lankal is my voete so nat, dat ek nie kan uitvlug vir asem nie. Dis nou net vasbyt en verduur en oorleef. Hoe kon ons al 3 kinders so groot gekry het?
Met die meeste in die bad, probeer ek die bad uitspoel, maar ek leer dat pynappel kousels weier om in 'n bad se drein af te gaan. Hier is nou 'n bad half vol met ... jy weet wat. Hoe nou gemaak? Net een manier - my hand moet in om die pynappel uit die drein-sif te kry. Daar's nie eers tyd vir moed bymekaar skraap nie - doen dit net en moenie dink nie.
Nou kom red moeder my en spuit 'n lugverfrisser wat die lug nog swaarder maak. Handy Andy word oor die vloer gespuit, maar om 'n onverklaarbare rede ook oor my bene waar ek reeds in die gemors staan.
Om 'n lang storie kort te maak: Met die ervare moeder se hulp (en ‘n beter sponsmop) kom die badkamer soort van skoon. Nou om myself skoon te kry met sulke hande en Handy Andy bene... Uiteindelik almal weer in die bed. Ou sus met 'n skottel en klein sus langs ma se bed.
'n Uur later besluit klein sus dis nou haar beurt - en daar begin ons weer! Dan besluit ou sus sy het nog iets om te wys en uit kom die Valoid en die laaste bietjie wat haar magie nog kon lewer. Gelukkig werk die emmerstelsel teen hierdie tyd foutloos in ons huis. (Al s die regering dit is al afgeskaf.)
Ek vlug maar na die PC om vir jou te vertel hoe dapper ek was. As die son vandag opkom sal ons maar sien of daar nog 'n vakansie gaan gebeur...
Deel 2: Snaaks hoe slaap deprevasie jou humorsin beroof. (Nee, dis nie meer snaaks nie!)
Valoids bly nie in nie, dus gaan ek teen 02h00 na die noodapteek om "suppositories" te kry. Maar hoe later hoe meer diaree-erig raak die nag. Suppositories doen dus ook nie hul werk nie.
Teen hierdie tyd is die mayo-pynappel toebroodjie al van alle blaam onthef. Teen dagbreek word die vakansie maar uitgestel. Toe ek dreig om kantoor toe te vlug word ek in geen onduidelike terme ingelig dat "dit die dag sal wees". Nou moet ek maar hier sit en deel 2 ook tik met my nare kinders hier rondom my - en 'n moeder wat nou al 2 nagte sonder slaap moes gaan...
Die kinders kry so nou en dan genoeg om energie om hul weergawes van die stryd en hul dapperheid met my te deel. Dis kostelik (nie meer so baie kotselik nie) om dit ook uit hu monde te hoor!
"Nogtans sal ons jubel en juig, want by my God is my heil." - Habakuk
No comments:
Post a Comment