04 December 2008

Skurkbewind en bloedvergieting.

Hier is weer 'n storie waar ek net wil stoom afblaas. Dit is nou nie bedoel as 'n "blessing" vir die lesers nie. Ek weet God is groot en goed en sal vir my sorg - waar ek ook al bly. Sien die einde van hierdie storie vir meer perspektief. Nou is ek eers kwaad en ontsteld.

Binne omtrent 'n week was daar drie aanvalle op plotte oos van Pretoria (Donkerhoek/Rietfontein en Vaalbank). My kollega wat hier langs my sit se buurman is vermoor in die eerste aanval (Henk Albertyn op 17/11/2008), 'n vrou in die tweede aanval (Laetitia Prinsloo op 20/11/2008) en in die derde aanval is daar uit verskeie rigtings op 'n huis geskiet sonder om iemand te tref (Legemar familie op 21/11/2008). Elke oggend as ek voor my kollega op kantoor is, wonder ek of hy nog veilig is. Hierdie drie insidente het wel die koerante gehaal.

Die polisie beheer nou al vir jare lank die misdaad statistiek so streng dat dit net na politieke raadgewing vrygestel mag word. As ek kyk na wat nie die koerante haal nie, van mense wat ek persoonlik ken, dan wonder ek wat die waarheid is. Met al die korupsie en skurke in die regering praat my kolega al van die ANC se "Skurkbewind".

Vrydag 28/11/2008 is my oom se goed beskermde huis in Brooklyn, Pretoria aangeval. Die tuinier wat al meer as 25 jaar by hulle bly is oorrompel en aangerand. Die rowers kon egter nie slaag om die huis binne te dring nie. Die tuinier het die polisie ontbied. (Die vorige aanval op my oom-hulle in dieselfde huis 'n paar jaar gelede was meer traumaties. Daar was 'n groot geselskap familie en kinders wat gebraai het. Gewapende rowers het hulle aangehou en beroof.)
Woensdag 3/12/2008 is ander vriende van my (ook familie van 'n kollega) met hulle gaste in 'n sekuriteits kompleks in Pretoria oorval en aangehou en beroof.
Hierdie 2 insidente in 1 week haal nie meer die nuus nie. So ook my ouers se aanval (vorige blog).

As ek kyk na wat misdaad aan my en my vriende en familie gedoen het dan lyk die prentjie baie sleg. Ek het al 3 motors verloor - waarvan die een roof met vuurwapens en geweld was. Ons het minstens 4 huisbrake by ons huidige huis gehad. My beste vriend is in sy woonstel vermoor. Nog 'n goeie vriend is in sy huis doodgeskiet. Vriende van ons familie ('n bejaarde egpaar wat baie vir God gewerk het) is gemartel en vermoor in Pretoria Noord. Verskeie vriende an familie lede is beroof en vasgebind - soveel so dat ek nie eers gaan probeer om almal op te noem nie.
As politici sê daar is 'n "persepsie" van erge misdaad is dit deur misdaad en nie deur die media nie, veroorsaak. Pretoria News, 24 November 2008, p.3: "Since last Monday, at least six violent house robberies have occurred throughout Pretoria." Dit is slegs die insidente wat media dekking verkry het. Die werklike situasie is volgens my kennis baie erger.

In die verlede het huis sekuriteit daarop gefokus om inbrekers te stuit en om dit nie te duidelik laat blyk dat die huis leeg is nie. Vandag is dit sekondere oorwegings - primer is om jouself en jou lewe (nie jou besittings nie) te beskerm teen rowers.

Perspektief

Nou dat ek sulke nare feite kwyt geraak het, wat doen ons?
Om negatief te raak gaan jou nie help nie. Om te vlug is nie vir almal moontlik nie. Elkeen moet alles moontlik doen om misdaad op alle gebiede te bestry. Werk saam met die bure (behalwe as hulle 'n chop-shop bedryf soos ons dominie se vorige bure).

Wees dankbaar oor elke stuk korrupsie wat oopgevlek raak. Wees dankbaar vir elke skurk wat gevang word. Help die polisie - die meerderheid van hulle in nie misdadigers nie.

As mense die twee wereld oorloë kon oorleef kan God ons ook in hierdie situasie beskerm. (Al beteken dit nie dat almal van ons gaan oorleef nie.) Ons kan bly vertrou.

Dis so maklik om rassisties te raak as jy hoor en sien dat feitelik alle rooftogte deur swart mense gepleeg word. As jy egter swart mense in die townships ken sal jy gou sien dat hulle nog meer as die ryk woonbuurtes onder misdaad deur loop. My beste vriend is deur 'n wit Afrikaner jong man vermoor. Rassisme is deel van die probleem - nie die oplossing nie.

Kry perspektief.
Ons hoop is op God, en nie op mense nie.
Elke stukkie goed wat jy saai maak 'n verskil.
Moenie moed verloor nie.
Die meeste van ons gaan wel misdaad oorleef.

Heel waarskynlik gaan niemand van ons lewend uit hierdie wereld kom nie.
Dan lê daar 'n ewige lewe voor wat ek vir geen prys ter wereld wil mis nie!!

NS: Om jou 'n vars perspektief op God se hart te gee, gaan lees gerus "The Shack" van William Young.

No comments: